Riglyne vir ’n voornemende bruid

Al die klaterkoekies (gold-diggers) in die land knetter van opwinding, want ’n Vrystaatse boer (58) soek iemand tussen 16 en 25 jaar oud om met hom te trou. Hy sal haar ouers R100 000 lobola betaal en waarborg dat daar R5 miljoen in sy boedel sal wees vir sy bruid. (Die feit dat meisies van 16 en 17 jaar oud minderjarig is, pla die boer nie.)

Die man, Gerrit Coetzee (op die foto bo), is boonop nie net ’n boer nie, maar ook ’n sakeman én advokaat. Hy is so desperaat om ’n jong vrou te kry dat hy selfs ’n advertensie in Die Burger laat plaas het.

Die klaterkoekies se geknetter het in ’n gekke gekletter ontaard toe Coetzee intussen besluit het om die lobola tot R1 miljoen te verhoog en die bruidjie se boedelvoorsiening tot R20 miljoen. Die goudgrawers is so buite hulself van opwinding dat dit Boer soek ’n vrou soos ’n Voortrekker-kamp vir laerskoolkinders laat lyk.

Coetzee is reeds 26 jaar getroud met ’n vrou wat hy as die “hoofvrou” bestempel. Die nuwe bruidjie sal die “hoofvrou” se goedkeuring ook moet wegdra. 

Coetzee sê hy soek ’n tweede vroutjie “volgens Bybel-beginsels”. Die dametjies wat wil aansoek doen, moet rein en hubaar wees en ’n nie-roker, “met diep geloofwaardes waar die man as hoof van die huis dien”.

Ek het kers opgesteek by pastoor Pieter Potgieter, ’n kennis van my, oor al die dinge waarop die dames moet let wanneer hulle aansoek doen om met Coetzee te trou en oornag ’n miljoenêr te word.

Sy moet kennis neem dat sy volgens die Bybel net diere mag eet wat herkouers is en gesplete hoewe het. Varkvleis is uit, want varke herkou nie, al het hulle gesplete hoewe. Sy mag haar mond ook nie aan skulpvis, garnale en krap sit nie. 

As ‘n man sy pasgetroude vrou beskuldig dat sy nie meer ‘n maagd is nie, moet haar ouers volgens die Bybel bewys van haar maagdelikheid lewer. As die beskuldiging vals is, word die man beboet en mag hy nie van haar skei nie. As dit egter bewys word dat sy wel voor die huwelik seks gehad het en dit weggesteek het, is dit ’n ernstige sonde en moet sy gestenig word.

Pastoor Pieter Potgieter sê ook sy mag nie sportmanne, akteurs, sangers en ander selebriteite as helde hê nie, want die Bybel verbied die aanbidding van afgode.

Sy moet ook homoseksuele mense veroordeel en verdoem, want volgens die Bybel moet daar sondebokke van sulke mense gemaak word. Die rede? Sodat nie-homoseksuele mense beter kan voel oor hulself deur hul eie begeertes en vergrype op gay mense te projekteer. 

DIe nuwe bruidjie sal wel heelwat hê om na uit te sien aan die sy van ’n welgestelde man in Bloemfontein. Dink net aan al daardie lekker etes in restaurante soos The Blue Gem, De Oude Kraal Country Estate, die New York Restaurant, Bella Casa, Avanti, Margaritas en die Longhorn Grill – en sy hoef nie ’n sent daarvoor op te dok nie!

En om nie eens te praat van al die inkopies by winkels soos La Creuset, Yuppiechef, Poetry & Old Khaki, Carrol Boyes, Eternity Goldsmiths, BLOM Studio, Thorn & Blossom en Hertex HAUS. En dis nog glad nie die einde nie – daar is ook uitstappies na Naval Hill en Maselspoort, die Warm Karoo & The Kitchen asook Leopards & Lace (albei op Spitskop) en die Windmill Casino & Entertainment Centre.

Boonop kan sy gaan ontspan in die Emoya Spa se rots-jacuzzi in hul Tropical Mist Room. Hier en by die Posh Lab Dan Pienaar kan die bruidjie alles kry wat mense soos Melania Trump ook kry: anti-verouderingsbehandeling, hidroterapie, sellulietbehandeling, aromaterapie, Hot Stone-masserings, kopmasserings, refleksologie, manikure en pedikure.

Ons sal moontlik kan deel in al die vreugde, want hopelik sal Huisgenoot die regte op die troue koop, dit alles borg en ’n foto-artikel van agt bladsye daaroor publiseer, soos hulle al met heelwat bekendes se troues gedoen het.

Pastoor Pieter Potgieter het my gevra of ek gaan aansoek doen. My antwoord: Nie vir al die geld in die wêreld nie, baie dankie.

Intussen wonder ek watter liedjies gaan by die huweliksonthaal gespeel word. Groep Twee se “Daar is niks soos ware liefde”? Francois van Coke en Karen Zoid se “Toe vind ek jou”? Juanita du Plessis se “Jy is die een”? Ricus Nel se “Die wêreld se beste maatjie”? Bobby van Jaarsveld se “Meisie van my drome”?

Moet tog net nie vergeet nie van “Hy lyk vir my so baie na Tant Koek se hoenderhaan” en “Sy lyk vir my so baie na Tant Hoenderhen se koek”.