Om ’n debuutdigteres in Afrikaans te wees is g’n grap nie. 

Die een uitgewer na die ander weet te vertel dat daar glad nie ’n mark in Afrikaans is vir poësie nie. Hulle maak nie wins daaruit nie en die meeste bundels is al teen ’n verlies uitgegee.

Dit was vir my ’n groot skok, want wat my betref is die Afrikaanse digkuns die taal se grootste skat. Nie net besef mense dit nie, lyk dit my, maar hulle gee ook nie ’n snars om nie. Hoekom is dit so? Dis ’n skande.

’n Verdere skok: As daar 100 eksemplare van ’n debuutdigbundel verkoop, word dit as baie beskou. Van die gevestigde name word dit as baie beskou wanneer daar sowat 500 tot 700 digbundels van hulle verkoop word.

Is dit hoe min mense vir Afrikaanse poësie voel? Ek is seker as ’n mens die deelteken verwyder, sal daar wel skielik ’n baie groot mark wees. Ek wil egter nie poesiepoësie skryf nie; daar is meer as genoeg Afrikaanse digters en digteresse wat dit pleeg.

Toe ek Skinder, seks & skemerkelkies geskryf het, het ek dié dinge nie geweet nie.  

Ek was egter gelukkig en bevoorreg om ’n fantastiese uitgewer te kry: Charl Pretorius van Wordslingers Publishing Corporation. Maar ander skrywers is nie so gelukkig nie. Ek het ook verneem daar is ’n uitgewery wat ’n mens sal help om jou boek uit te gee, maar dan sal dit jou tussen R20 000 en R35 000 kos na gelang van die dikte van die boek. Gelukkig het ek nie so baie geld om te mors nie en is die dikte van baie ander dinge vir my van groter belang.

Dit maak eintlik nie sin om digbundels in winkels te probeer verkoop nie, want die middelmanne vat te veel geld. Almal wil ’n stukkie van die melktert hê, soos oom Chris Blignault gesing het. Wel, die handelaars en kommersiële koppelaars moenie met mý melktert lol nie, het ek besluit.

Charl het aanbeveel dat ons Skinders, seks & skemerkelkies eers eksklusief aanlyn by Graffiti Boeke verkoop terwyl die verspreiders bestellings by boekwinkels probeer kry. Dit is wonderlik om saam met  Graffiti te werk – wat hulle vir boeke en lesers doen verdien ’n monument. 

Een van die eerste pogings om ‘n boekwinkelbaas te kry om belang te stel, is deur een in Hermanus afgewys omdat die woord “seks” in die titel van my digbundel is. DIe High Tide-boekwinkel in St. Helenabaai het wel belang gestel, asook The Book Lounge in Kaapstad. Die bundel is na verneem word uitverkoop by Sunset Books in die Strand.

Ja, dis inderdaad geen grap om ’n donsdosie in die digwêreld te wees nie, om van ’n uitgewer nie eens te praat nie…

Dit lyk egter of ’n mens ten ene male nie boekwinkels kan systap nie, middelmanne en melkterte ofte nie. Dus is daar goeie nuus: Danksy die harde werk en ywer van Blue Weaver-verspreiders het Clarke’s Bookshop in Langstraat, Kaapstad, asook Exclusive Books en Bargain Books eksemplare van my bundels bestel en dit sal dit eersdaags by die volgende takke beskikbaar wees: 

Exclusive Books: Centurion Lake (Pretoria), Hyde Park (Johannesburg), Sandton City, Cresta (Randburg), Tygervallei (Bellville), Clearwater (Strubensvallei, Johannesburg), OR Tambo Internasionale Lughawe (Kempton Park), Canal Walk (Kaapstad), Somerset Mall (Somerset-Wes), Claremont (Kaapstad), Victoria Wharf (Waterfront, Kaapstad), Loch Logan (Bloemfontein) en Namibian Grove (Windhoek).

Bargain Books: Willowbridge (Bellville), Vredenburg (Weskus Mall), Paarl Mall, Highveld (eMalahleni/Witbank) en Kyalami Corner (Midrand).

Volgende keer sal ek meer skryf oor verdere gewaarwordings van ’n donsdosie in die digwêreld, soos die reaksie van die media en gevestigde digters en akademici. Wat dit betref, is dit belangtik om die volgende versie van my in Skinder, seks & skemerkelkies in gedagte te hou:

ek dryf eerder in ’n lugballon

as om te skryf vir die literêre salon

gee my lekkerkunde eerder as letterkunde

opgeklits met ’n bietjie kletterkunde

want ek is liewer kliterêr as literêr

whê!