Afrikaanse liedjies – in sommige dampkringe ook genoem songs, nommertjies, tunes en liedere – lê die meeste mense wat die taal praat na aan die hart. Daarom word daar tans in sommige gonsgroepies reeds geweldig uitgesien na wat deur sommige siele beskou word as iets wat die Kersie op die Afrikaanse Koek gaan wees. (En met koek word nie bedoel die soort wat jy in Sarie of Loslyf sien nie, maar meer simbolies gesproke die Afrikaanse Kultuurkoek.)
‘n Paneel van 50 uitgelese musiekfynproewers van die Sondagblad Rapport het die 100 beste Afrikaanse liedjies “van alle tye” gekies en dié word nou drupsgewyse afgetel met tien liedjies elke week. Nommers 71 tot 100 is al aangewys, en daar gaan nog 70 nommertjies volg totdat Nommer Een uiteindelik oplaas gekroon gaan word.
Tot dusver het die paneel met uitsonderlike bevindings vorendag gekom. Hulle sê die Briels se “Die trein na Pretoria” is ’n baie beter Afrikaanse liedjie as onder meer Laurika Rauch se “Die gang” en Anton Goosen se “Josie-Josie”. (“Die trein na Pretoria” is nie ’n eg Afrikaanse liedjie nie, maar ’n vertaling van ’n stokou Amerikaanse treffer, “East Bound Train”. Daarteenoor is “Die gang” en “Josie-Josie” oorspronklike, eg Afrikaanse skeppings.)
Snotkop en Carike Keuzenkamp skop egter tot dusver stof in selfs die Briele se oë met “Dis ’n land”. En ’n kortkop voor Snotkop en Carike is Anneli van Rooyen met “Ek wil jou ken”, waarvan die koortjie gaan “ek wil jou ken, kom saam met my”. (Jammer genoeg is die liedjie se titel nie “Ek wil jou beken” nie.)
“Die trein na Pretoria” is nie die enigste vertaalde liedjie tot dusver op die paneel se lys nie.
Daar is al sowat vyf onder nommers 71 tot 100. Bles Bridges se “Ruiter van die windjie”, ’n vertaling van Mel Jersey se 1975-treffer “Vagabunden finden kein zu Haus”, pronk ook in al sy glorie op die kenners se lys.
Die liedjie wat Sunette Bridges verlede jaar vir haar pa geskryf het, “Daar is nie ’n Zoom-lyn na die hemel nie”, verskyn nie onder die laaste 30 liedjies op die Top 100 nie. Volgens haar volgelinge sal dit na verwagting opduik wanneer die 20 topplekke van die Top 100 bekend gemaak word. Ander meen as daar nie ’n Zoom-lyn na die hemel is nie, moet sy die ander plek probeer.
Hoekom word die vertaling van “Ruiter van die windjie” dan so hoog aangeskryf deur die paneel? Ek het ’n digterkennis van Stellenbosch gevra om vir ons ’n antwoord te formuleer. Volgens hom bied die Afrikaanse woorde van “Ruiter van die windjie” ’n besonderse uitdaging vir die literêre speurder. Eerstens: Na watter windjie word daar verwys? Is dit ‘n winterwind of ’n lentewind? ’n Warrelwind of ’n rukwind? ’n Noordwind of ’n suidewind? ’n Woestynwind of ’n seewind?
Die ruiter wil “vryer as die voëltjies” rondom hom wees. Na watter voëltjies verwys hy? Vrolike vinkies of olike tinktinkies? ’n Rooiborsie of ‘n tiptol? ’n Janfrederik of ’n spekvreter? ’n Mens moet weet met watter soort voël jy te doen het, en of dit ’n voël is of ’n voëltjie. Daar’s ’n groot verskil.
Dan volg daar ’n deel wat op die oog af nie sin maak nie, maar wat deur middel van dekonstruksie besondere vondste vanuit ’n postmodernistiese perspektief oplewer: “Op verre lande vertel ek goue strande en die see”. En dan ’n besonder tergende deel: “Ewig op jou ruggie wil ek ry”. Op wie se rug wil hy ry? Die wind s’n? Dit kan nie wees nie, want die wind het nie ’n rug nie. Op die rûe van die voëltjies? Vanuit ’n praktiese en logiese oogpunt sal so iets nie kan werk nie en sal dit neerkom op dieremishandeling. Of wil die ruiter op ’n mederuiter se ruggie ry, en is die lirieke ’n veelvlakkige metafoor vir dié siening?
So meen die Stellenbosse digter. Vir my is ’n meer aanneemlike uitleg egter dat die “windjie” na ’n poep verwys en dat die ruiter dus ’n meester is wanneer dit by die laat van winde kom. En wie weet, dalk is die mederuiter ’n chroniese poeper.
*
Die vraag op talle mense se lippe is dus: Watter liedjie gaan die Kersie op die Afrikaanse Koek wees? Party mense sê Steve Hofmeyr se “Pampoen” en Bok van Blerk se “De La Rey”. Ander sê “Jan Pierewiet” en “Groen koringlande”. Gé Korsten se “Liefling” is ook ’n voorloper, en so ook Groep Twee se “Die padda wou gaan opsit” (al is albei vertalings van oorsese liedjies en dus nie eg Afrikaans nie).
Dit moet inderdaad ’n gewigtige taak vir Rapport se uitgelese paneel van Afrikaanse musiekkenners wees. Daar rus ’n enorme kultuurskat soos ’n groot verantwoordelikheid op hulle skouers.
Die volk het egter volle vertroue in hulle om die Kersie op die Afrikaanse Koek aan te wys, sê my vriendin Felicity Ferreira. Sy kla egter dat “die kersie op die Afrikaanse koek” te veel woorde is om elke keer te gebruik, en wou weet of daar nie ’n korter eenwoord-term is wat sy kan besig nie.
Sekerlik, was my antwoord. Gebruik die afkorting: K.A.K.
