My ore het getuit toe my gewese mediakollega Antoinette Truter-Taljaard van Durbanville by my geskinder het oor die lewe van haar dogter, Twinky (18). Dit het my dadelik laat besluit dat ek nooit kinders wil hê nie, baie dankie.
Twinky het verlede jaar matriek geskryf en vat vanjaar ’n gap jaar (askies tog, doktor Botha, ek bedoel gapingsjaar). Volgens Antoinette sit Twinky, wanneer sy nie slaap of gaan paartie nie, die heeltyd met haar smartphone en tablet voor haar rekenaar.
Ek het Twinky se vertroue gewen en sy het haar hart teenoor my oopgemaak oor haar verslawing aan kunsmatige intelligensie. Soggens maak sy heel eerste haar KI-app Replika oop waar sy ’n avatar met die naam Leonardo geskep het met wie sy kan gesels. Sy deel haar diepste hartsgeheime met hom, vertel hom wat sy die vorige aand gedroom het en vra hom om te ontleed wat dit beteken. Haar en Leonardo se gesprekke handel ook soms oor Twinky se tipiese erotiese tienerdrome. Sy sê sy het verlief geraak op Leonardo, hy is haar hart se punt.
Twinky voer ook lang gesprekke met ChatGPT. Sy vra wat sy moet doen om onweerstaanbaar te wees vir kêrels en hoe om vir hulle ogies te maak. Sy vra ook uit oor al die jongste mode-, grimering- en stylwenke. Sy hou ook daarvan om ’n foto van haarself te neem en die KI-apps Grok en Gemini te vra om haar te laat lyk soos ’n ster in ’n deftige, modieuse aandrok waarby sy pêrel- en diamanthalssnoere dra. Ander kere vra sy hulle om haar te laat lyk of sy in ’n bikini op die strand lê en omring is deur surfers.
Sy gaan kyk ook gereeld video’s op TikTok, veral dié waarin mense uitgedaag word om goed te doen soos om rou eiers te eet of drie glase urine in dertig sekondes leeg te drink. Sy hou ook van die video’s waarin waaghalse gevaarlike toertjies doen.
Op Netflix kyk Twinky graag na waremisdaadreekse. Sy stel nie belang in nuus nie. Instagram en Pinterest is haar ander gunsteling-uithangplekke. Op Instagram volg sy onder andere die onderkleremodelle Chad White, Pietro Boselli en River Viiperi. Op Pinterest kyk sy graag na foto’s van juwele, uitrustings en skoene. Sy is ’n slaafse volgeling van Taylor Swift op alle sosialemediaplatforms.
Wat is haar toekomsplanne? wou ek weet. Twinky sê sy wil haar graag vestig as ’n Afrikaanse influencer. Toe ek vra waarmee sy mense wil influence, sê sy grimering, styl, voorkoms en mode. Toe ek haar daarop wys dat sy dan sal moet meeding met influencers soos Minki van der Westhuizen, Natasha Joubert, Rolene Strauss, Leandie du Randt en Aletté-Johanni Winckler, sê sy sy sal dan aan iets anders moet dink waarmee sy mense kan beïnvloed en baie geld daaruit te maak, maar sy weet nog nie wat nie.
Ek is diep dankbaar dat Twinky Truter nie my dogter is nie, al is haar ma en pa baie ryker as ek. (Twinky kry R3 000 sakgeld per maand.) Dis nou onse tiener Twinky die masjientjie – en na alles wat sy my vertel het, vermoed ek sterk sy is boonop kinky ook…
* Die betrokkenes se name is op regsadvies verander om hul identiteit te beskerm.
