Dis net die Wynland wat ’n bredie soos dié kan maak. Ek praat nou van die jaarlikse Toyota Stellenbosch Woordfees. Dit het my drie dae gevat om vanjaar se feesgids deur te lees, want daar is so baie produksies (meer as 400!) wat die volgende insluit: ’n skrywersfees, klassieke musiek, toneel, dans, ’n musiekfees, visuele kuns, diskoers, leefstyl en ’n filmfees. Die Woordfees word van 3 tot 11 Oktober in die statige ou Eikestad gehou.

Dit gaan my nog ’n rukkie vat om te besluit wat ek alles wil gaan kyk, maar ek het intussen gesels met ’n oudkollega van my, Annette Prinsloo Troskie (30), wat getroud is met ’n baie welgestelde wynboer van Stellenbosch, Tros Troskie (62). Geld is nie vir haar ’n probleem nie, en sy het klaar besluit wat sy alles gaan bywoon.

Die Troskies gaan die fees afskop deur die veelgeroemde Langtafel by te woon. Dit sal hulle wel R3 300 kos, maar Annette sê dis ’n belegging wat goud werd is in terme van netwerkpotensiaal en die kos en drank is werklik iets van ’n ander planeet.

Volgende op haar lys is die produksie Vars gespyker met Hannon Bothma (die Glam Guru). Daarin gee hy wenke oor hoe ’n mens sy “vars gespykerde”-voorkoms kan bemeester. Ek en Annette wonder baie wat dit beteken. Is dit hoe ’n mens lyk pas nadat jy deeglik bygekom is deur iets wat in die vorm van ’n spyker is? Of bedoel hy dalk ’n soort martelaarsvoorkoms soos iemand wat gekruisig is? Is die Glam Guru ’n klaterbommetjie of ’n knaterbrommertjie? Annette sê sy kan nie wag om uit te vind nie…

Tweede op haar lys is die einste Hannon se Roadshow. Annette sê dit val so reg in haar kraal. Daarin wys Hannon hoe elkeen soggens in ’n japtrap met ’n volumehaarstyl, versorgde vel en glansgrimering haar dag beter kan begin.

Al lees sy nie juis poësie nie, wil Annette ook graag die gratis aanbieding Oggendkoffie met Joan Hambidge bywoon omdat sy lief is daarvoor om te netwerk en sy graag haar sosiale kring wil uitbrei met hooggeplaaste skrywers en intellektuele. 

Annette gaan om dieselfde rede ook nie die aanbieding misloop nie waar ’n mens die voorreg kan geniet om braaibroodjies te nuttig saam met jou gunsteling-boekmense in ’n ontspanne atmosfeer. Teen net R50 is dit ’n winskopie, sê Annette. Dis nog nie bekend wie die boekmense is nie, maar Annette hoop al haar gunstelinge is daar, soos Frenette van Wyk, René van Zyl, Chandra Nel, Leon van Nierop, Malene Breytenbach, Deon Meyer, Elsa Winckler, Gretha Wiid en Elize Parker.

Dan wil Annette ook die vertonings bywoon van Afrikaanse ikone en kulturele steunpilare, waar dit belangrik is om deur die regte mense raakgesien te word. Ongelukkig is Nataniël nie vanjaar by die fees nie, maar Sandra Prinsloo, Anton Goosen, Amanda Strydom, Coenie de Villiers, Frank Opperman, Margit Meyer-Rödenbeck, Armand Aucamp, Sean van Noordwyk en Karen Zoid is almal darem daar en Annette gaan hulle konserte ook bywoon.

Annette wil ook nie Die Gesels-ontbyt met Leandie du Randt misloop nie, en vir haar is die kaartjieprys van R430 kleingeld, haas sy om by te voeg. Du Randt is een van die toonaangewendste rolmodelle en meningsvormers vir jong Afrikaanse dames, sê Annette.

Tussen al die produksies deur wil Annette ook graag gereeld uithang by Bok Radio en Radio Tygerberg se stalletjies asook in die RSG/ATKV-vierkant. Sy beplan ook ’n paar meer formele etes by Spier Veld, De Volkskombuis, The Fat Butcher en Eike by Bertus Basson.

Die aanbieding Leef jou droom! gaan Annette en Tros saam R1 780 uit die sak jaag, maar ook dit is vir hulle kleingeld, beklemtoon Annette. In dié aanbieding kan ’n mens jou drome herontdek saam met Minki van der Westhuizen op die spogwynlandgoed Lanzerac en waar jy volgens die gids inspirasie kan put uit Minki se borrelende persoonlikheid en passie vir die lewe terwyl julle ’n feestelike laatontbyt geniet. Wat meer het ’n mens nodig in die lewe, sê Annette.

Volgende keer gaan ek skryf wat ek alles vanjaar by die Woordfees wil bywoon. Gelukkig lyk dit of my en die Troskies se paaie nie baie sal kruis by die fees nie. Altyd iets om voor dankbaar te wees.