Die vryskutjoernalis Petra Pienaar-Nel het toe Maandagoggend ’n onderhoud met my kom voer. Voor sy gekom het, onthou ek een of ander skrywer het na joernaliste as “hoernaliste” verwys. 

Ek glo nie ’n mens kan veralgemeen en dit op alle joernaliste van toepassing maak nie, want van hulle doen baie belangrike werk, soos om korrupsie oop te vlek, slapgat staatsdepartemente gas te gee, misdadigers aan die kaak te stel en seksmonsters te ontmasker. En nog vele meer.

Nou is dit ongelukkig so dat ’n mens wel hoernaliste ook kry – hulle wat saam met ’n dronk, bedwelmde sanger of aktrise sal slaap of in hulle asblikke sal rondsnuffel net om ’n sappige storie te kan kry. Dan is daar hoernaliste wat in ruil vir ’n bord kos in ’n vyfster-restaurant gloeiende artikels oor middelmatige sepiesterre sal skryf, en ook dié wat by die regering  gatkruip met ’n polities-korrekte en moreel-meerderwaardige houding. En nog vele meer.

Dan kry jy ook poernaliste, wat altyd poer-poer en hanna-hanna en nie rigting kan kry met ’n onderhoud nie en nie ’n idee het waaroor hulle nou eintlik wil skryf nie. En dan die koernaliste – hulle wat in blomryke, soetsappige taal skryf oor iemand asof die somerson uit sy/haar hol skyn. Of die sogenaamde leefstyljoernaliste wat koer oor die huise van sogenaamde gesofistikeerde superrykes. En nog vele meer.

Glo my, ek het dit alles self gesien toe ek ses jaar in die vermaaklikheidsbedryf gewerk het. Ek het lankal nie meer illusies nie.

Watter soort joernalis is Petra Pienaar-Nel? het ek gewonder. Sy is ’n vryskut en beoog om die onderhoud voor te lê aan Die Papier, Huisgenoot, Sarie, rooirose en Maroela Media en die een wat dit eerste aanvaar, kan dit publiseer. Ek kon nie dadelik agterkom of sy ’n hoernalis, poernalis of koernalis is nie.

Met die intrapslag het die hare op my nek gerys. Net nadat sy my hand geskud het toe sy my groet, het sy haar oog krities oor my skoene en klere laat gly, ek het haar gecheck. Sy het dit seker gedoen om te sien of dit goedkoop of duur skoene en klere is.

Ek het vriendelik gebly en haar ingenooi en nadat sy ge-oe en ge-aa het soos ’n duif in paringstyd oor die interieur van my huis, het ons by die gesellige tafel in die kombuis gaan sit en die man wat kan het vir ons koffie en tuisgebakte tipsytert aangedra. Sy het nog ‘n bietjie ge-oe en ge-aa en vreeslik rondgekyk en alles ondersoekend betrag, asof sy een ’n spioen van een of ander sinistêre staatsinstelling is.

Nadat ons die koffie en tipsytert geniet het, het die man wat kan vir ons elkeen nog ’n koppie koffie gebring. Sy het haar slimfoon aangeskakel om die gesprek op te neem en ook notas begin neerskryf. Die man wat kan het ’n foto van ons geneem en gesê koebaai, hy gaan op die strand stap, lekker om jou te kon ontmoet Petra, bye.

Ek het skielik besef ek wil nie my lewe oopspalk in Sarie nie. Of Huisgenoot, Die Papier, rooirose of Maroela Media nie. Ek wil die massamedia nie naby my hê nie. Ek moes vinnig dink en het met ’n plan van aksie na vore gekom. Ek het met Petra ooreengekom dat sy eers die artikel vir my sal stuur sodat ek dit kan lees, en dan sal ek besluit of ek dit goedkeur. En as ek nee sê, is dit maar tough cookie, koekie.  

Petra het my van ’n kant af uitgevra. Ek het gevoel soos ’n verdagte wat deur die Thought Police in George Orwell se 1984 ondervra word. Dit was baie erg. Nooit weer nie, het ek vir myself gesê. Nóóit. Ek het nie hierdie gesnuffel in my lewe nodig nie. My lewe het niks met enigiemand uit te waai nie. As julle iets van my sekslewe en hartsake wil weet, gaan lees net Skinder, seks & skemerkelkies, dit is alles daar. So eenvoudig soos dit.

Terwyl ek hier skryf, pieng my e-pos se inboks – ag askies ek bedoel indoos, ek probeer maar korrekte Afrikaans besig. My moed sak in my pantoffels, want Petra het vir my ’n lysie gestuur om in te vul oor my gunstelinge: kos, drank, reuk, TV, fliek, skrywer, digter, digteres, boek, musiek, sanger, sangeres, akteur, aktrise en smaakmaker/meningsvormer. Ai tog. Ek het nie meer woorde nie, maar ek sal haar e-pos beantwoord, want ek is ’n ordentlike meisie, en kyk wat gebeur. 

En wanneer ek Petra se artikel môre kry (foeitog, sy gaan seker deur die hele nag skryf…) sal ek agterkom of sy ’n joernalis is, of ’n hoernalis, poernalis of koernalis. Dan sien ons wat gebeur indien sy die moernalis in my wakker sou maak – en daar is ’n baie goeie kans dat dit kan gebeur…