Ek het in my vorige blog, “Donsdosie van die digwêreld”, belowe ek sal julle dié keer meer vertel oor hoe moeilik dit is om ’n Afrikaanse debuutdigteres te wees en met julle te skinder oor my ontvangs deur die media. 

Julle sal julle ore nie glo nie.

Toe Skinder, seks & skemerkelkies se eerste druk einde April gepubliseer is, het ek vir die uitgewer gesê ons het nie gevestigde korporatiewe Afrikaanse mediahuise nodig om my boek te help bekendstel nie. Ek het kort daarna wel ingestem dat die joernalis Petra Pienaar-Nel ’n onderhoud met my kan kom doen. (Dit is onder “Soekie Vogel – Misterie van die Weskus” te lees elders op my webwerf.) Dit was so ’n nagmerrie dat ek besluit het ek staan nooit weer ’n enkele onderhoud toe nie; joernaliste is soos bloedhonde en aasvoëls.

Intussen – sonder dat ons by Afrikaanse mediareuse aangeklop het vir ondersteuning – is die eerste drukoplaag van die boek uitverkoop en die tweede druk sal ’n klomp winkels van Exclusive Books en Bargain Books landwyd binne die volgende paar dae tref.

Omdat ek ’n klein hartjie het en my uitgewer jammer kry omdat hy so hard werk, en omdat sy geloof in my en sy ondersteuning so baie vir my beteken, het ek vir hom gesê om hom te help, kan ons maar die water toets by ’n Afrikaanse mediahuis en kyk of dit enige borrels oplewer. Dit was toe helaas nie borrels van vonkelwynvreugde nie, maar eerder borrels van paddas en visse wat spuitpoep het. 

Wat het dié poging opgelewer? Die betrokke mediahuis het my gecancel! Hulle sê hulle stel nie belang om iets oor my boek in hulle geëerde blaaie te skryf nie omdat ek nie onder die naam op my geboortesertifikaat skryf nie, maar ’n nom de plume gebruik. Julle kon ons met ’n take-away viskoekie omklap. Maar nou kom die interessantste dele van die storie…

***

Die einste massamediamaatskappy publiseer baie artikels oor mense wat nié onder hul geboortename bekend is nie. Wie weet byvoorbeeld wat Kurt Darren, Adam Tas, Snotkop, Boerneef, Jack Parow, Yo-Landi Vi$$er en Sossi se name op hulle geboortesertifikate is?

Nee, jy sal dit eers moet gaan Google, ou perd. Om van skrywers soos Kleinboer, Boerneef, Eitemal, Sangiro, Magriet Smalberger, Elmar Steyn, Chris van Lille en Adrienne du Toit nie eens te praat nie. 

En weet julle wat is die snaaksste van alles? Die betrokke multimassamediamaatskappy het self al heelwat artikels en berigte onder nom de plumes gepubliseer. My goeie vriend Basjan het dié van ’n klompie joernaliste (ek het van die meeste van hulle nog nooit gehoor nie) vir my genoem: Sagmoedige Neelsie, Braam Kleinhans, Dawie, Crito, Pollux, L.I. Bertyn, P.R.O. Faan, Tim Uys, Jacqueline Brink, De Wet le Roux, Francois Richter, Stephanie Meiring en Jana-Mariana Human.

Now put that in your pipe and smoke it…

***

Wat is die moral of the story? Die multinasionale multimediamassamaatskappye is in die eerste plek net besorg oor wins en geld en hulle sal enige strooi skryf net om sirkulasiesyfers en clicks op te jaag. (Kyk maar die koerantplakkate teen die muur hierbo.)

Vir hulle is sensasionele stories oor bloed en derms en snot en trane en glanspersoonlikhede en Britse koninklikes en seks in Hollywood belangriker as Afrikaanse digkuns. 

DIe sheeple is hulle teikenlesers – mense wie se angsvlakke hulle hemelhoog kan opjaag met hulle doemprofesieë en fear mongering;mense wat hulle emosioneel manipuleer en breinspoel om te koop-koop-koop.

Basjan sê vir my ek moet dit beskou as ’n eer dat ek gecancel is, want dit wys ek trap op politiek-korrekte tone en laat mense in invloedryke posisies ongemaklik voel omdat ek onder meer dubbele standaarde oopvlek.

Die betrokke mediareus (om sy eie woord te gebruik) ly ook aan die illusie dat hy die alfa en die omega, die be all and end all, is. DIé nuusdiens het egter minder intekenare as die getal inwoners van een groot dorp. 

I rest my case…