Deur Petra Pienaar-Nel
Al byt die laatherfsluggie reeds, is dit vandag ’n hemelskone dag in ’n skilderagtige Weskus-dorp.
Dis hier waar die digteres Soekie Vogel, wat tans die tonge los het met haar eerste bundel, Skinder, seks & skemerkelkies, gereeld op die strand dwaal en dagdroom en na walvisse en dolfyne kan kyk om haar gedagtes vrye teuels te gee. (Sy wil nie hê ek moet die dorp se naam noem nie, want sy word te veel deur mans en in sommige gevalle dames lastig geval.)
Ons gesels sommer by die heerlike kuiertafel in haar gesellige kombuis, want haar papegaai, Pik, wat in sy hok in die sitkamer is, kan te veel praat. Pik is al byna 40 jaar oud en Soekie het hom as ’n geskenk gekry van ’n vriend, die fotograaf Malletjie Malan.
Soekie deel die huis, wat baie knus en gesellig ingerig is, met ’n vriend. Hy is ’n musikant en kunstenaar en verkies sy privaatheid, daarom noem Soekie hom net Die Man Wat Kan. Sy vertel hy dra haar op die hande en bederf haar met heerlike kos, tuisgemaakte skemerkelkies en die musiek wat hy maak op klavier en tjello.
In die kombuis word ons omring deur pragtige plante en allerhande interessante blikkies, botteltjies en bekertjies op die kaste, elkeen met sy eie verhaal. Soekie het heelwat daarvan van haar ma geërf.
Ek het nie geweet wat om te verwag voor ek Soekie ontmoet het nie. Ek het gedink sy is ‘n wilde, wellustige tierkatjie, maar allesbehalwe. Sy praat in ’n sagte, vriendelike stem. Die Man Wat Kan het heerlike koffie gemaak met varsgeroosterde bone, en hy het ook vir ons ‘n smullekker tipsytert gebak.
Nadat ons gesels het oor die weer, al haar plante en kombuisware, haal ek my notaboek uit en sit my slimfoon aan. Dis tyd om Soekie Vogel vierkant onder vier oë te neem.
***
Is Soekie Vogel haar regte naam?
Sy sug. “Ek is hierdie vraag al tot vervelens toe gevra. Die antwoord is op my webblad in my blog ‘Vogelbegogel’. Jy kan dit daar gaan oplees.”
Ek maak ’n nota. “Hoe oud is jy?” vra ek.
“Dis nie iets wat ’n mens vir ’n vrou vra nie! Weet jy dit nie?”
Ek maak ’n nota dat ek op Google moet gaan probeer vasstel hoe oud sy is.
Waar het sy grootgeword en gestudeer?
Sy sug weer. “Gebore in Makwassie en grootgeword in Bloemfontein. Al daardie inligting is op my bio op Facebook. Jy kan daar gaan kyk. Ek is nie nou lus om daaroor te praat nie. Dis alles verby.”
Baie mense wonder hoe dit alles vir Soekie begin het: die eerste gedigte wat sy gelees het wat haar geprikkel het om haar hand ook aan die pen te waag, en wie haar grootste inspirasie was.
“My ma was ongetwyfeld die grootste inspirasie. Sy het eenkeer vir my ’n boek present gegee, Die Afrikaanse poësie in ’n duisend en enkele gedigte, saamgestel deur Gerrit Komrij en in 1999 uitgegee deur Uitgewery Bert Bakker in Nederland. Tot in daardie stadium het ek nie Afrikaanse poësie gelees nie, want die goed wat ons op hoërskool moes doen, het nie tot my gespreek nie en my heeltemal afgesit van Afrikaanse boeke.
“In die boek wat my ma vir my gegee het, ontdek ek toe die gedig ‘Die Durbanse poepwedstryd’ wat in 1941 geskryf is. Dit, en van die ander gedigte in die boek, het my toe genoegsaam geprikkel om daarna die Afrikaanse poësie te begin ontdek.”
Sy sê as sy reg onthou, was die vers “o my wêreld” in Skinder, seks & skemerkelkies die eerste gedig wat sy geskryf het. Sy was toe ’n skrale 16.
Waaroor gaan haar boek?
“Presies wat die titel sê.” Sy verander die onderwerp en vra of sy vir ons nog koffie kan skink.
***
Dit is moeilik om deur Soekie te dring. Sy mag sagsinnig wees en aandagtig luister na wat ’n mens sê en in ’n mooi gemoduleerde stem praat, maar om haar is daar beslis ook ’n misterieuse, byna mistieke aura.
Wat dink sy van die mense wat haar as ’n enigma beskou? (Ek mag my verbeel, maar dit het gelyk of sy haar oë vlugtig rol nadat ek die vraag gestel het.)
“Ek gee nie om wat ander mense van my dink nie,” antwoord sy. “Hulle ken my nie.”
Soekie het aan die einde van 2024 bedank nadat sy ses jaar in Kaapstad as koördineerder, fasiliteerder en blakertekspraktisyn in die vermaaklikheidsbedryf gewerk het. Hoekom het sy haar rug gedraai op so ’n luisterryke, glansryke loopbaan-milieu?
“Ek is nie ’n stadsmeisie nie. Ek kon daardie gejaag nie meer uitstaan nie. En die werk self het my mal gemaak.”
Hoe so?
“Al die opgeblase ego’s van die sogenaamde sterre en hul donker geheime waaroor niemand praat nie. En nie net die openbare figure nie, maar ook die mans wat my al skaamteloos tussen die lakens probeer kry het, soos bekende mediabase, welgestelde prokureurs, filosowe, kuiergatte, jappies en gomtorre. Dit alles bring ek op die lappe in Skinder, seks & skemerkelkies. En dan natuurlik ook al die skinderstories by hulle partytjies, dinees, bekendstellings en soirées wat my ore bereik het.”
Al die mense en situasies waaroor sy in haar boek geskryf het, is nie denkbeeldig nie. Om lasterstappe te vermy, het sy die mense se name net verwring of verander. Is sy nie bang iemand wil wraak neem nie?
“Ek dink nie so nie. As hulle hulself sou herken, dink ek hulle sal nie wil hê lesers moet weet dit gaan oor hulle nie, hulle sal te skaam wees. Hulle sal nie ’n bohaai maak nie, want dan is die eier op hulle gesigte. En ek vat nie twak van tuinkabouters nie. As hulle my wil aanvat, moet hulle twee keer dink, want ek kan ’n baie, baie tawwe koekie wees wanneer dit nodig is. Ek is goed in karate.”
Watter werk doen sy nou?
.
“Ek mag nie daaroor praat nie. Ek moet diskreet wees, aangesien ek die persoonlike asssitent van ’n private ondersoeker is.”
Waaraan werk sy tans?
“Ek het onlangs Joan Hambidge se Swart koring in een van my ma se bokse vol ou boeke ontdek en gelees. Ek oorweeg dit nou om ’n intertekstuele boek daaroor te skryf, getiteld Swart horing. Ek sal maar sien of ek daarby uitkom, want ek geniet dit eintlik meer om poësie te skryf.”
Is sy skrikkerig vir resensies oor Skinder, seks & skemerkelkies?
“Nee. Ek gee nie ’n veer om wat mense, en veral akademici en medeskrywers, van my dink nie. Daar is interessanter dinge in die lewe. Ek glo nie eers ek sal dit lees nie.”
***
Die tydjie wat Soekie se uitgewer my toegestaan het vir die onderhoud het verbygesnel. Op pad uit verwonder ek my opnuut aan die gesellige huislike aard van haar en Die Man Wat Kan se woning. Die Man Wat Kan is ook ’n uitstekende binnenshuise ontwerper: van sy kleurryke skilderye hang teen die mure. “Hiert, jou sliert!” sê Pik vir my toe ek deur die sitkamer na die voordeur stap.
Soekie stap saam met my buite toe en ons gesels oor al die plante, blomme, bome en voëls in hulle tuin. Wanneer ek wegry, kyk ek vir oulaas terug na Soekie in die truspieëltjie: al bly sy ’n enigma en ’n misterie, is sy ’n sonskynmens met ’n glimlag die meeste van die tyd op haar gesig, lewendige oë wat soms onnutsig kan lyk, en is sy rustig en kalmerend van geaardheid. Sy is enige skoonma se droom.
***
Terug by die huis doen ek my speurwerk.
1. Soekie Vogel se regte naam is Susan Vogelsang. Haar ma het haar altyd Soekie genoem vandat sy klein was. Susan was ook die naam van Soekie se lewensoriëntering-juffrou op hoërskool, en Soekie het haar geháát. Toe sy aan ’n skryfnaam moes dink, wou sy glad nie Susan gebruik nie, en Soekie Vogelsang het vir haar ook nie lekker op die tong geval nie. Sy het toe haar van verkort ter wille van die ritme en heet dus nou Soekie Vogel.
2. Ek het afgekom op inligting voor in Soekie se boek dat 2011 die jaar was waarin sy “o my wêreld” geskryf het. As sy toe 16 was, soos sy beweer, beteken dit sy is in 1995 gebore en is dus nou 31.
3. Soekie het skoolgegaan aan die Meisieskool Oranje in Bloemfontein en gestudeer aan die Universiteit Stellenbosch.
Die Rosestad en die Eikestad het voorwaar iets om op trots te wees. Die muse het Soekie Vogel sonder twyfel op vlerke geneem sodat sy soos ’n arend kan sweef.
Sweef, Soekie, sweef!
