Ek het al geleer om nie meer seer te kry nie, maar my daaraan af te vee wanneer mense allerhande verspotte grappies maak oor my naam. Vir die rekord: my doopnaam is Susan Vogelsang, maar my ma het my van kleins af Soekie genoem. Toe ek moes besluit onder watter naam ek Skinders, seks & skemerkelkies wou publiseer, het Susan Vogelsang nie lekker op die tong gelê nie. Dit klink soos die naam van ’n hygroman-skryfwer. Boonop was my lewensoriëntering-juffrou op hoërskool se naam ook Susan, en ek haar geháát.

Soekie Vogelsang het vir my ook nie lekker geklink nie. Toe kry ek ’n blink ingewing, en haal net die sang uit ter wille van die ritme en maak Soekie Vogel my skryfnaam. There you have it. Tevrede?

Nou vra mense my: Beteken jou naam “jy soek nie voël nie” , of “beteken jou naam jy soek dié voël”? Die antwoord: Nee, ek soek nie ’n voël nie, ek het reeds ’n papegaai. En ek verstaan ook nie wat bedoel word met “dié voël” nie. Wat is dit? Daar is baie voëls wat daarop aanspraak kan maak. (Dink maar net aan uile, swane, seemeeue, bosduiwe, valke, arende, sekretarisvoële…)

Dan is daar mense wat my vra: Vind jy dis waar dat een voël in die hand beter is as tien in die lug? (Hoe moet ék weet?) Of: Ek het al ’n voëltjie hoor fluit dat jy al ’n one-night stand met ’n bekende Voëlvry-kunstenaar gehad het. Is dit waar? (Die antwoord is in Skinder, seks & skemerkelkies.)

Ek het einde 2024 weggevlug van Kaapstad na ’n kusdorpie aan die Weskus nadat ek ’n huis van my ma se broer geërf het. En ek het ’n ander mens geword. Ek het begin skryf oor my ses jaar agter die skerms in die vermaaklikheidsbedryf in die stad, en Skinder, seks & skemerkelkies is die resultaat. 

Gelukkig het ek darem ’n verstandige vrou geword en nou maak ek maar saam grappies oor my naam en sê altyd gelukkig is ek darem nie ’n voëlverskrikker nie. 

Maar dis nou ook ’n ander storie wanneer party voëls nie vir jou skrik nie…